Gereformeerde Kerk Thabazimbi        
          AAN GOD ALLEEN DIE EER EN HEERLIKHEID                          

Sending werk in Thabazimbi - Toe en Nou

Kort nadat Ds Giep Scheepers in 1961 in die Thabazimbi-gemeente begin werk het, het hy in 1963 ook  met die uitdra van die Evangelie ( = sending/evangelisasie) onder die plaaslike Tswana-sprekendes begin….br Peet du Plessis onthou dit nog soos gister!

Twee kerke word spoedig onder hulle gestig : In 1964 die gemeente Ysterberg in die dorp en in 1965 die gemeente Boegoepan met die hulp van broeders WAJ van Wyk en Ockert Venter (dis nou in die Maroelasfontein-gebied – sien vorige RAMSHORING). Ook in 1971 word onder sy leiding noordwes van Thabazimbi die gemeente Dithabeng met die hulp van wyle br Faan van der Linde gestig. Vir dié gemeente word op die plaas van br H S van der Linde ‘n kerkgeboutjie opgerig wat ook as skoolgebou gedurende die week gedien het (Tswelopele).  

Dit is nie waar dit opgehou het nie want verskillende ander preekpunte in en rondom die dorp is ook deur Ds Scheepers en helpers bedien : By voorbeeld by oom Jurg Grobler op die plaas asook die “damkerk” by br Jan (Duiker) –hulle.

By die Dithabeng/Tswelopele gemeente het ekself nog tot so onlangs as drie jaar gelede saam met ouderling Oelof Schutte van Matlabas dienste op die plaas Ysterpan in die skoolgebou dienste gehou en nagmaal bedien. By Ysterberg gaan die gemeente steeds voort.  Op die foto kan die gemeente in erediens gesien word soos op Sondag 4 Nov 2012 afgeneem.

En die halfvoltooide struktuur waarin hulle sit…?  Dit is ‘n verhaal op sy eie : Al die “sendinggeld” is in een fonds saamgevoeg - plus/minus : R67000,00. Ons gemeente onder wie se sorg hierdie geld geplaas is, het besluit om daarmee ‘n kerkgebou in Regorogile vir die gemeente daar in vier fases te begin bou. Ons sal Fase 1 doen naamlik die staalstruktuur en die vloer vir die kerkruimte en dan verder slegs die plaaslike gemeente bystaan en adviseer vir die voltooiing van die ander drie fases  soos en wanneer hulle dit kan bekostig. Die optrek en goedkeuring van die planne het ons R7000,00 gekos en vroeg hierdie jaar is die struktuur (sien foto) voltooi met die helfte van die geld wat oorgebly het saam met ‘n ruim skenking (R30000,00!) deur drie van ons lidmate….waarvoor ons saam met hulle die Here dankbaar voor is. Nou word beplan om  DV nog hierdie jaar die vloer te gooi (120 vk meter) sodat die gemeente met die R6000,00 wat hulle reeds ingesamel het vroeg in 2013 die mure kan begin bou (Fase 2).

Waar pas u in? As u wil help (op Saterdae) laat ons gerus weet en as u ‘n geldelike bydrae wil gee laat ons ook weet asseblief. Kom ons vergeet gerus die “kerkstruktuur” argumente van Sinode Soutpansberg wat “weggebreek” het en ons bepaal ons by die lewende boustene in die liggaam van ons  Here Jesus Christus… Tussen en saam met gelowiges wat deur die getroue arbeid van menige van ons voorgangers tot geloof in God gekom het. Ons sal DV vroeg volgende jaar weekliks in die Herout u op die hoogte  van die bouwerk-vordering bly hou.

Groetnis van u mede evangelie-uitdraers tot volgende jaar. 

  

Ds Dirk Laufs, (sameroeper van die evangelisasie-werkers)

Kerkgebou voltooi in Regorogile: 2014?

Op die foto verskyn ‘n deel van die gemeente Ysterberg in Regorogile in erediens op Sondag 4 November 2012. Intussen het ons met die laaste R30 000 (van die aanvanklike R67 000) ook die vloer laat gooi en nou maak die gemeentelede geld bymekaar om die mure te bou. Van ons lidmate het te kenne gegee dat hulle ook hiervoor wil bydra. Ons is dankbaar vir ‘n bydrae van R1000 wat alreeds ontvang is mbt die projek. U kan dit inbetaal in hierdie rekening:

   

Gereformeerde Kerk Sending

Absa Tjekrekening nr. 1580 148 677 takkode 33 43 46.


 

Byvoorbaat baie dankie vir u welwillende bydrae.

Ds. Dirk Laufs evangelisasiewerkers.